Krieket

Piktogram wat krieket aandui
’n Kriekettoets in spel
Veld met bouler, die twee kolwers en ’n skeidsregter

Krieket is ’n boul-en-kolf-sport gespeel tussen twee spanne van elf spelers elk op ’n krieketveld in die middel van ’n 22-jaart-kolfblad (20 meter) met ’n paaltjie aan elke kant bestaande uit twee dwarsbalkies op drie paaltjies. Die wedstryd vorder wanneer ’n speler, die bouler genoem, van die span wat veldwerk doen die bal wettig van die een kant van die kolfblad na die ander kant na die paaltjies boul, met ’n boulbeurt wat klaar is sodra hulle ses wettige balle afgestuur het. Die kolfspan het ’n speler by elke kant van die kolfblad, met die speler oorkant die paaltjies van die bouler wat probeer om die bal van die bouler met sy kolf te slaan. Die kolfspan teken lopies aan wanneer die bouler die bal onwettig na die kolwer boul, die bal die veldgrens raak of wanneer die twee kolwers tussen die twee paaltjies hardloop, gelykstaande aan een lopie. Die veldwerkspan probeer om die aantal lopies te beperk en elke kolwer uit te skakel (hulle is “uit”, hulle het hul paaltjies verloor). Maniere van uitskakeling sluit in uitgeboul, wanneer die geboulde bal die paaltjies raak en die dwarsbalkies afval, en vir die veldwerkspan deur die vang van ’n geslane bal voordat dit die grond raak, of om ’n paaltjie met die bal te tref voordat ’n kolwer sy kolfkampie voor die paaltjie bereik en ’n lopie aanteken. Wanneer tien kolwers uitgehaal is, eindig die kolfbeurt en die spanne verander van rolle. Die wedstryd word deur twee skeidsregters beheer, ondersteun deur ’n derde skeidsregter en ’n wedstrydbeampte in internasionale wedstryde.

Krieketformate sluit in Twintig20 (T20), met elke span wat vir 20 boulbeurte kolf en ’n wedstryd wat gewoonlik drie uur duur, internasionale eendagwedstryde (EDI) oor 50 boulbeurte oftewel een dag, tot toetswedstryde (toets) wat oor vyf dae gespeel word. Tradisioneel speel krieketspelers in ’n volledig wit uitrusting, maar in kleiner formate dra hulle klub- of spankleure. Bykomend tot die gewone uitrusting dra sommige spelers beskermende uitrusting om moontlike beserings te verhoed deur die bal, ’n harde, soliede sferoïed, gemaak van saamgeperste leer met ’n effens verhewe toegewerkte naat uit ’n styf gewikkelde tou wat ’n kurkkern omsluit. Vrouekrieket, wat op sy eie georganiseer en gespeel word, het ook ’n internasionale standaard bereik.

Die vroegste bekende verwysing na krieket dateer uit die middel-16de eeu in Suidoos-Engeland. Dit het met die uitbreiding van die Britse Ryk wêreldwyd versprei, met die eerste internasionale wedstryde wat in die tweede helfte van die 19de eeu gespeel is. Die sport se beheerliggaam is die Internasionale Krieketraad (IKR), wat in 1909 gestig is en nou meer as ’n 100 lede behels, van wie twaalf volle lede wat toetswedstryde speel. Die speelreëls, die krieketwette, word deur die Marylebone-krieketklub (MKK) in Londen behartig. Die sport is veral in Suid-Asië, Australasië, die Verenigde Koninkryk, Suider-Afrika en Wes-Indië gewild.[1] In die lande van Suid-Asië, insluitende Indië, Bangladesj, Pakistan en Sri Lanka, is krieket verreweg die gewildste sport. Dis ook ’n gewilde somersport in die Verenigde Koninkryk, Afghanistan, Australië, Ierland, Namibië, Nederland, Nepal, Nieu-Seeland, Suid-Afrika, Kenia, Zimbabwe en die Wes-Indiese eilandstate. Veral in lande van die Karibiese gebied soos Antigua en Barbuda, Bahamas, Barbados, Bermuda, Grenada, Guyana, Jamaika en die Turks- en Caicoseilande word krieket as ’n nasionale sport beskou. In lande van die Britse Statebond met krieket as ’n tradisionele somersport soos Australië, Engeland, Ierland, Namibië, Nieu-Seeland, Skotland, Suid-Afrika en Wallis dien rugby as ’n tradisionele sport vir die wintermaande. Krieket is die tweede gewildste sport ter wêreld, naas sokker,[2][3][4] met meer as een miljard ondersteuners, veral op die Indiese subkontinent.[1] Krieketwêreldbekertoernooie is van die gewildste sportkompetisies wêreldwyd en word in die EDI-vorm gespeel, maar ook T20I-wêreldbekertoernooie en Kampioenetrofeë geniet groot ondersteuning. Die suksesvolste span in internasionale krieket is Australië, wat sewe EDI-trofeë, insluitende vyf krieketwêreldbekertoernooie, gewen het, meer as enige ander land en hulle was vir ’n langer tydperk die beste toetsspan as enige ander land.

’n Internasionale toetskrieket kan, in een vorm van die spel, vir ses of meer uur per dag vir vyf dae aanhou, en nog steeds nie ’n uitslag lewer nie – die verskeidenheid intervalle tussen middagete en tee en die ryk terminologie is kenmerkende aspekte wat maklik dié wat nie met die spel vertroud is nie, deurmekaar maak. Vir sy ondersteuners hou die spel uitstaande sportmylpale en intense mededinging tussen topkrieketlande in. Dit het selfs al op kere gesorg vir diplomatieke spanning met die berugste geval tydens die sogenaamde lyf-reeks (Engels: Bodyline series) tussen Engeland en Australië in 1932/33 om die As. Wedstryde tussen aartsvyande soos Indië en Pakistan met die doel van politieke ontspanning staan as “krieketdiplomasie” bekend.

Krieketwedstryde is al tydens internasionale sporttoernooie soos die Olimpiese Somerspele 1900 in Parys en die Statebondspele 1998 in Kuala Lumpur beslis. In 2019 het die Internasionale Krieketraad bevestig dat ’n Twintig20-toernooi met agt vrouespanne tydens die Statebondspele 2022 in Birmingham beslis sal word.[5] Daarbenewens het die IKR onderhandel met die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) oor die hertoelating van krieket vir die Olimpiese Somerspele 2028 in Los Angeles.[6] In Oktober 2023 is dit op die kortlys vir dié Olimpiese Somerspele geplaas[7] en die T20I-formaat is deur die IOK goedgekeur.[8]

  1. 1,0 1,1 (en) Osman Samiuddin (27 Junie 2018). "ICC survey reveals over a billion fans – 90% in subcontinent". ESPNcricinfo. Besoek op 12 Junie 2022.
  2. (en) "Playing a Sport With Balls and Bats, but No Pitcher". The New York Times. 3 April 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Augustus 2019. Besoek op 7 Februarie 2021.
  3. (en) "The most popular sport you've never played". The Monitor. 21 April 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Februarie 2010. Besoek op 28 Februarie 2010.
  4. (en) "The world's Top 10 most popular team sports". Sportingo. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Maart 2010. Besoek op 16 Mei 2009.{{cite web}}: CS1 maint: bot: original URL status unknown (link)
  5. (en) "Cricket to return to Commonwealth Games in 2022 with women's T20s". ESPNcricinfo. 13 Augustus 2019. Besoek op 12 Junie 2022.
  6. (en) Daniel Brettig (12 Augustus 2019). "ICC working towards cricket in 2028 LA Olympics, says MCC's Gatting". ESPNcricinfo. Besoek op 12 Junie 2022.
  7. (en) "IOC approves Cricket for 2028 Los Angeles Olympics". The Economic Times. 13 Oktober 2023. Besoek op 16 Oktober 2023.
  8. (en) "International Olympic Committee approves cricket and four other sports for 2028 Games in Los Angeles". Sky Sports. 16 Oktober 2023. Besoek op 16 Oktober 2023.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search